Wanneer jy klere dra wat nie net gemaklik is nie, maar ook jou laat goed lyk, laat dit jou soveel beter oor jouself voel. Dit gee jou selfvertroue en dit laat jou straal. Te veel kere wanneer ons bietjie “af” voel raak ons in die gewoonte om slonsdrag te dra, wat ons eintlik net nog meer treurig laat voel.
In professor Karen Pine se boek “Mind What You Wear” bespreek sy ‘n studie wat sy op 100 dames gedoen het.
Toe hulle gevra is wat hulle verkies om aan te trek wanneer hulle ‘n af dag het, het meer as die helfde dames geantwoord dat hulle oorgroot, slonsdrag verkies.
90% van die dames het erken dat hulle klere wat hulle goed pas en mooi en selfversekerd laat voel afskeep wanneer hulle onder druk is.
Slegs 2% van die dames het gesê dat hulle steeds oorgroot, slonsdrag dra wanneer hulle gelukkig voel.
Dit is dus duidelik dat jou die styl en snit van jou klere ook ‘n groot impak het op jou persoonlike welstand en emosies.
Nie een vrou se liggaam lyk dieselfde nie en niemand hoef slanker te probeer lyk nie, ‘n mooi persoonlikheid skyn baie helderder as ‘n mooi figuur. Die volgende wenke is slegs wenke om in gedagte te hou volgende keer as jy voor die spieël staan en op jou beste wil lyk.
- Kies donker skakerings eerder as ligte kleure
‘n Donker uitrusting laat jou dadelik langer en slanker voorkom. Swart en navy is goeie opsies om jou slanker te laat lyk.
- Dra broeke met ‘n hoë middellyn
‘n Broek wat oor jou middel kom, help om die ekstra lagie om jou magie (ook bekend as ‘n “muffin top”) te verbloem en jou maag plat te druk.
‘n Broek met ‘n hoë middellyn sal jou ook langer laat voorkom.
- Dra ‘n beld om jou middel te beklemtoon
‘n Beld fokus dadelik die oë op jou middellyf en help om die kleinste deel van jou liggaam te beklemtoon.
Bepaal waar die kleinste deel van jou middel is en bind jou beld daarom om dit te beklemtoon.
- Dra hoë hakskoene
Hoë hakke laat jou bene langer en slanker lyk.
Hierdie is veral ‘n lekker wenk om te onthou as jy kort is.
- Dra monokroom uitrustings
Alhoewel ek gaande is oor ‘n mooi patroon of motief, laat monokroom uitrustings mens beslis slanker lyk – dis nie verniet een van die oudste mode wenke nie!
Indien jy motiewe of helder kleure wil dra, dra dit aan die deel van jou liggaam waar jy volume wil skep. Indien jy groter gebou is in jou bolyf, dra rompe of broeke met motiewe en patrone. Indien jy groter in jou onderlyf is, dra eerder moetiewe en patrone aan jou bolyf.
- Dra ‘n V-nek
‘n V-nek verleng jou neklyn en laat jou langer en slanker voorkom.
- Kies gepunte toon skoene
Skoene met ‘n punt toon het dieselfde effek as ‘n V-neklyn, dit laat jou bene langer en slanker lyk.
- Dra vertikale strepe
Vertikale stepe skep die illusie van ‘n langer en slanke figuur.
- Probeer oorvou rokke
Oorvou rokke is seker van die mees vleiendste rokke omdat dit al die regte kurwes beklemtoon, en die res sagkens verbloem. Soos hierbo genome is die v-halslyn ook baie verslankend. Belê gerus in ‘n mooi oorvou rok – jy sal nie spyt wees nie!
- Bykomstighede
Hulle sê nie verniet, “bykomstighede is ‘n vrou se beste vriendin” nie! Wanneer jy jou bykomstighede reg stileer kan dit jou ook slanker laat lyk.
Onthou, mense fokus hulle aandag waar jou halssnoer eindig. Moenie ‘n halssnoer dra wat op die grootste deel van jou bors eindig nie, dit sal jou breër laat lyk.
‘n Langer halssnoer, nes ‘n v-nek, verleng ‘n jou neklyn en dit laat jou slanker voorkom.
Vroue met ‘n groter bolyf moet eerder groot, bonkige halssnoere vermy. Maar jy ‘n groter onderlyf het, dra helder bonkige halssnoere om aandag na jou bolyf te trek.